Samesyn, intersyn: Daar's iets in hierdie leemte tussen ons

Samesyn, intersyn: Daar's iets in hierdie leemte tussen ons

'n Besinning deur Octavia Roodt

Ek sit in ’n sirkel in ’n plattelandse dorpietjie in Denemarke. Dis tjoepstil. Ek weet nog min van die mense. Die projekbeskrywing is ’n onbeskaamde verlange na ’n beter wêreld. En dit het belowe dat ons daagliks sou saam oefen en mediteer. Hulle voer ons net vegan en bio. Bietjie idealisties? Soos ek? In die middel van die sirkel is ’n waterbeker waarin iemand ’n woeste bos veldblomme ingedruk het, vars gepluk en wemelend van die goggas. Ek kyk om my. Gesiggies van Amerika, Australië, Belarus, België, Denemarke, Duitsland, Frankryk, Hongkong, Litaue, Oostenryk, Nederland, Roemenië en Swede. En ek, in al my Afrikaansheid.

Die ruiker kom uit die tuin langsaan die skoolsaal. Blomme wat ek nie ken nie, wat vir my soos vingerhoedjies en lelie-van-dale lyk. Ons mag die ruimte gebruik tydens die kinders se vakansietyd en dit is verbasend warm vir ’n Deense somer. Die son skyn af en toe deur die openinge in die dak en maak skadu’s op die diepblou vloer.

Ons is nugter, sekulêr en voorbereid, toegerus met ’n teoretiese begrip van hoe dinge is en behoort te wees. Ter voorbereiding het sommige van ons diep akademies gelees, oor transindividuasie en interpersoonlike neurobiologie. Ander is vars uit ’n Indiese ashram of haal graag christelike nonne aan. Van die mense kom ook uit ’n politieke hoek. Maar op hierdie geleentheid vra hulle dat ons dit alles eers opsy sit. Ons sink in die meditasie in. In stilte en asem. Ons wag dat die gedagtes vir eers vermurwe en wegval. Hier en nou. Bewus van inasem. Bewus van uitasem.

Ek is goed gewortel in my liggaam wanneer iemand uiteindelik praat. Dis asof die skielike klank tussen my selle vibreer. Ek sien hoe ek dink. Dis die maer ou prof. Thomas wat ons uitnooi om ons innerlike fokus na buite te verskuif, na die ander in die sirkel. Ons mag vorentoe lê om dit voor te stel. As ons reg is. Versigtig, stadig, maak ek oop. En dan breek dit soos ’n golf, teenwoordighede bars oor my. ’n Bruisende stroom lewe straal my bors binne. Daar is ’n vreugde, oorweldigende liefde. Seer, mooi seer. Ek voel trane oor my wange stroom. In hierdie sensitiwiteit sien ons ’n piepklein spinnekoppie uit die blomme klim. Hy hardloop na een van ons se tone. Vir ’n oomblik rus ons hier, saam – stil, sag en stomgeslaan. Mooi, mooi, mooi.

Vreesloosheid en Caritas

As fascisme gegrond is in ’n tipe vrees (el-Ojeili 2019; Trevor-Roper 1968), is daar dalk iets belangriks in die rus en stilwording van die kontemplatiewe. Politiese filosoof Hannah Arendt het as ’n jong vrou haar proefskrif oor St Augustinus se idees van die liefde geskryf. Ek vertaal:

Vreesloosheid is wat die liefde koester [...]. En hierdie vreesloosheid bestaan net in die volledige kalmte wat vrystaan van enige verwagtings van die toekoms. [...] Dus is die enigste welgevonde hoek die teenwoordige, die Nou. (Arendt 1996:11)

Hierdie liefde, wat Arendt caritas noem, is nie sentiment nie. Dit is ’n radikale oopheid teenoor ander, ’n vorm van vriendskap gegrond op die gedeelde besef van ons bestaan. Caritas ontken alle meerderwaardigheid en mag, in diens van ’n wederkerige, onselfsugtige saamwees. Dit is anders as die warmte wat ons voel teenoor dié waarvan ons maklik hou, aangesien ons genot altyd verstrengel sit in die tweeling van vasklou en verlies – volgens Arendt (1996:11) “die vrees om nie te bekom wat na verlang word nie en die vrees om dit te verloor sodra dit bekom is”.

Ek het onlangs vir mense oor hul grensoorlogstories begin vra. Hoe het ek so gelukkig geword om nie mý mansmense na een of ander leër te moet stuur nie? Waar hulle óf deur die drink van verveling óf verskriklike geweld verwring sou word? Maar ek dink ook nou weer aan myself as vrou, natuurlik. In ’n ander werklikheid is ek dalk die kind wat grootmeneer met granate speel en sy been verloor. Zen-monnik Thich Nhat Hanh (2015) vra dat hy op sy verskeie “regte name” genoem word:

Sê tog nie dat ek môre sal vertrek nie –
selfs vandag arriveer ek nog.
Ek is die padda wat heerlik swem
in die helder water van ’n dam.
En ek is die grasslang
wat haar stilweg op die padda voed.

Later in dié gedig sê Thich Nhat Hanh dat hy die verhongerde kind in die oorlog en ook die wapenhandelaar is. As hy sy egte name hoor, sê hy, spring die deur van deernis oop. Ek hou van die Nederlandse compassie, soos dit gebruik word na die Latynse compassio. Letterlik mede en lye.

In Denemarke gaan duik ons gereeld kaal in die koue fjord in. Dis veilig, basies onmoontlik om mens daarin te verdrink. Vir ’n paar honderd meter niks hoër as jou bobeen nie. Daar is niks en niemand anders nie, veels te vêr van die beskawing van Kopenhagen. Is ons ook die seemeeue wat bo ons draai? Of die see?

Breyten Breytenbach sê in Lotus (1970) se ‘Skemertaal’ “dis nie vers-maak nie maar synloop”. ’n Stukkie daaruit:

maar om te leef
sodat ek mag sterf
leef ek in jou

maar om te sterf
sodat ek mag leef
sterf ek in jou

my sterwe is geërf
my lewe behoort aan jou

Die politiek van teenwoordigheid

Boeddhistiese figure soos Kamilah Majied, Tara Brach en Jack Kornfield argumenteer dat gereelde, gelykmatige praktyk die grense van die “ons” kan verskuiwe. Daar moet ook eers losgelaat word. Dit vra dat ons van vrees na liefde beweeg, van strak na oop. Soos Pulitzer-pryswenner Gary Snyder sê: “As jy die wêreld wil red, red dit omdat jy dit liefhet.”

Roshi Joan Halifax se Grace-model is hieroor uiters prakties. Dit staan vir gathering of attention, recalling of intention, attunement to self and other, considering insights to discern action, en uiteindelik, etiese engagement voor mens die interaksie beëindig. So, fokus op die oomblik en vind weer jou mooiste idees iewers in jou liggaam voor jy jou volledig rig op iemand anders. Die kalm insig van die oomblik moet dan die aksie lei. Halifax, ’n abdis en antropoloog, beklemtoon die belangrikheid van politieke aksie uit kontemplatiewe praktyk. Haar idees oor hoe kompleks empatie kan wees is in The Oxford Handbook of Compassion (2017) as antwoord op die vraag: “Is global compassion possible?”

As ek Halifax mag glo oor my geheimsinnige Deense ervarings was ons dalk besig om te attune toe ons inleun en die intelligensie van intersyn ervaar. Psigiater Dan Siegel noem dit die agste sintuig. Filosowe Elizabeth Debold en Thomas Steininger het ons gelei en hulle praat van “the space between us” as ’n intelligente, helende entiteit. Iets met ’n wil van hul eie. As ons sensitief genoeg word om empaties na mekaar te kyk én eindelik te kan stabiliseer daarbinne, dan kan empatie uiteindelik die basis van volhoubare aksie word (Halifax 2012).

Ek vermoed (of hoop) dat die relasionele etiek van ’n tipe ubuntu (Ewuoso en Hall 2019) ook makliker voortvloei as ons eers rustig word binne die moeilike ervaring van saamwees. Volledig beliggaamd en teer saam. En dat ons die fenomenologiese “feite” rêrig ernstig mag opneem. ’n Paar intersynpraktyke mag dalk help – om al die wakkerword, liefde en weerstand te verweef. Vir transformasie deur liefde. In liefde. Uit liefde! En ’n herkenning dat hierdie oomblik, liefste Klyntji-leser, al is wat ons het.

Bronne

Arendt, H. 2014. Love and Saint Augustine. University of Chicago Press.

Breytenbach, B. 1970. Lotus. Johannesburg: Buren.

el-Ojeili, C. 2019. Reflecting on Post-Fascism: Utopia and Fear. Critical Sociology, 45(7–8):1149–66.

Ewuoso, C. & S. Hall. 2019. Core Aspects of Ubuntu: A Systematic Review. South African Journal of Bioethics and Law, 12(2):93–103.

Halifax, J. 2012. A Heuristic Model of Enactive Compassion. Current Opinion in Supportive and Palliative Care, 6:228–35.

Nhat Hanh, T. 2005. Call me by my true names: The Collected Poems. Parallax Press.

Seppälä, E., Simon-Thomas, E., Brown, S.L., Worline, M.C., Cameron, C.D. & J.R. Doty. 2017. The Oxford Handbook of Compassion Science. Oxford University Press.

Trevor-Roper, H.R. 1968. The Phenomenon of Fascism. In Fascism in Europe. Routledge.


Nota: Die oorspronklike weergawe van hierdie essay kan in Engels op The Helsinki Notebooks gelees word.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Samesyn, intersyn: Daar's iets in hierdie leemte tussen ons gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand