Karoo Kewpie en Pride in die platteland

Grafika: Verskaf

Tiffany Witbooi vra: Wat gebeur wanneer 'n argief wêrelde oopmaak?

Die Karoo Kewpie-projek wat tydens vanjaar se KKNK aangebied is deur die fees se Karoo Kaarte-projek in vennootskap met die District Six Museum en GALA Queer Archive, was nie net ’n kuns- of argiefprojek nie. Dit was ’n ontginning. ’n Uitskoffing van alles wat lank onder die oppervlak vasgesteek het – queerstories, queerpyn, queervreugde, queerteenwoordigheid in plattelandse ruimtes waar sulke identiteite dikwels stilgemaak of tot randfigure geskuif word. 

Die Karoo Kewpie-projek is aangebied as ’n multidissiplinêre inisiatief wat queerstories uit die Karoo in gesprek gebring het met die nalatenskap van Kewpie van Distrik Ses – ’n ikoniese figuur uit die sestigs en sewentigs wat nie net bekend was as haarstilis en pageant queen nie, maar ook as ’n simbool van selfdefinisie, oorlewing en queervreugde te midde van onderdrukking. Kewpie se lewe is vasgevang in honderde persoonlike foto’s wat vandag deel vorm van een van Suid-Afrika se mees unieke queerargiewe. 

Die Karoo Kewpie-projek het oor verskeie platforms ontvou: ’n uitstalling met beelde uit die Kewpie-versameling en nuwe plaaslike argiefmateriaal; ’n teaterproduksie gemaak saam met queer kunstenaars en jong mense uit Oudtshoorn en omliggende dorpe; interaktiewe storiekringe en indiepte onderhoude wat fokus op queerervarings in die platteland; en twee openbare paneelgesprekke oor gemeenskapsargiewe en queerverteenwoordiging. Deelnemers het gekom van verskeie velde – van dragkunstenaars en professionele akteurs tot mondelinge geskiedenisnavorsers en jong kunstenaars. Dit was nie net ’n kunsprojek nie, maar ’n vorm van herwinning van ruimte en herinnering: ’n poging om ’n queerteenwoordigheid sigbaar, hoorbaar en deel van die streek se kollektiewe geheue te maak. 

Ek was deel. Ek het geluister. Ek het gehuil. Ek het gevra. Maar toe ek skryf, was dit uit hulle monde uit. Bybels. Sonder om by te voeg. Sonder om weg te haal. Want hoe maak ’n mens plek vir queerstories in ruimtes wat jou nog altyd as ’n gas gesien het? Hoe eer ons die deelnemers wat ons in hulle vertroue neem? 

Die spieël van Kewpie 

Kewpie, haar storie en haar nalatenskap kom sit toe been oorkruis in ons herinneringe, ons gewetes en op ons tonge. Sy hou toe ’n spieël op met ’n waarheid wat my konfronteer met hoe ek omgaan met narratiewe wat buite my werklikheid bestaan. Hierdie foto’s – vol flair, broosheid, ironie, styl – het in die Karoo beland tussen die bakens van Oudtshoorn se geskiedenis: ’n plek wat vir baie nog vasgevang is in ’n binêre wêreldbeeld van man/vrou, reg/verkeerd, wit/swart.

Wat gebeur wanneer só ’n figuur, só ’n energie, só ’n geskiedenis in hierdie landskap ingeplant word? 

’n Ontploffing van konneksie. Jy sien mense regop sit – nie net uit nuuskierigheid nie, maar uit herkenning. Jy sien jong queer mense wat hulself vir die eerste keer in ’n argief of op ’n verhoog raaksien, en ouer mense wat begin onthou: van ’n broer, ’n kind, ’n buurvrou wat “anders” was. Skielik is daar ’n gaping in die stilte en stories begin stroom – stories wat lank afgeskeep of afgeskryf is. Vreemdelinge tree in gesprek; pyn en trots word in dieselfde asem gedeel; iets gaan oop in ’n gemeenskap wat lank toe was. Dit is nie net ’n reaksie op kuns nie, dit is ’n reaksie op jarelange verlange om gesien te word. 

Daar was vrae. Daar was ook onsekerheid. Verbasend genoeg uit die queer gemeenskap self. En hulle was reg om skepties en versigtig te wees. Dit is hoekom dit belangrik was om gesprekke te voer oor die insluiting van queerstemme in die bou van gemeenskapsargiewe en na te dink oor wie die reg het om wát te onthou. Karoo Kewpie daag prakties die reg tot herinnering uit deur queer mense self as argiveerders en vertellers te posisioneer – nie net as onderhoude of voorwerpe nie, maar as samestellers van hulle eie stories. Jong en ou deelnemers het hulle herinneringe verbeeld in kostuums, monoloë en visuele kuns, waardeur hulle aktief bydra tot wat en wie onthou word. Die projek maak dus ruimte vir ’n teen-argief wat nie van bo af neerdaal nie, maar van binne af opgebou word. Tydens die hele proses het die onderstroom dieselfde gevoel: Ons is hier. Ons was nog altyd hier. Maar nou vra ons dat ons óók gesien, gehoor en bewaar moet word. 

Karoo Kewpie daag prakties die reg tot herinnering uit deur queer mense self as argiveerders en vertellers te posisioneer – nie net as onderhoude of voorwerpe nie, maar as samestellers van hulle eie stories.
— Tiffany Witbooi

Die platteland as plek van moontlikheid 

Daar is ’n gewilde narratief – veral in queer kringe – dat jy moet trek om vry te wees. Trek Kaap toe. Trek oorsee. Kry afstand van die plek wat jou wil stroop van wie jy is. 

Maar projekte soos Karoo Kewpie wys vir my iets anders: dat daar in die platteland ook ’n oopte is. Nie net letterlik nie, maar simbolies. Hier’s ruimte om te droom, te herskryf, te skep. Ja, dit is moeilik. Maar dit is ook moontlik. 

Wat gebeur wanneer queer mense nie net gasrolle in die platteland speel nie, maar hoofkarakters word? Wanneer hulle nie net gehore is vir stories van elders nie, maar self vertel? Ons het dit gesien: Jong mense wat hulle eerste queer karakter op ’n verhoog geskep het. Oudergewoonte ooms en anties wat kom om te deel, saam te lag, ’n traan of twee stort en beïndruk rondkyk of ander mense ook sien hoe seepglad Ava haar split doen. Anties wat vir mekaar fluister: “Djirre, meisie, dis onse klimeid daai.” 

Pride-maand kom elke jaar verby soos ’n kleurvolle storm. Maar in plekke soos Oudtshoorn is daar min strukture om die momentum te bou en nog minder om dit te dra. Ja, die Karoo Kewpie-projek het een keer ’n platform geskep, maar platforms soos dit het volgehoue energie, gemeenskapswil en ondersteuning nodig. Ons kan nie wag vir die volgende fees nie. Ons moet planne maak vir queer leeskringe, veilige ruimtes, ondersteuning vir jong mense wat uitkom en programme wat ouer mense help om te verstaan.

Ons kan begin deur die bestaande kulturele en opvoedkundige strukture te gebruik – biblioteke, museumkamers, selfs stoepstoele en tuinhekkies – as ruimtes vir queerontmoeting en gesprek. Queer leeskringe wat jong mense blootstel aan stories waarin hulle hulself kan herken. Geselssessies waar ouer generasies vrae mag vra sonder skaamte of oordeel. Skryf- of kunswerkswinkels waar plaaslike kunstenaars hulle ervaringe kan verbeeld en deel. Dit hoef nie groot of duur te wees nie; dit moet net aanhou. Wat ons in Oudtshoorn begin het, kan in Beaufort-Wes, Calvinia, Makhanda en Piketberg ook gebeur. Maar dit vra dat mense hul voete plant – nie net vir Pride nie, maar vir die alledaagse, die Maandagoggend ná die laaste Miss Gay Fantasy-kompetisie. 

Wat ons in Oudtshoorn begin het, kan in Beaufort-Wes, Calvinia, Makhanda en Piketberg ook gebeur. Maar dit vra dat mense hul voete plant – nie net vir Pride nie, maar vir die alledaagse, die Maandagoggend ná die laaste Miss Gay Fantasy-kompetisie.
— Tiffany Witbooi

Daar is al plekke waar sulke saad begin groei het. In Makhanda bied die Amazwi Letterkunde-sentrum gereeld queer-gefokusde programme aan waar stories gesentreer word rondom identiteit en herinnering. In Namakwaland het Kersfees vir Kewpies, ’n gemeenskapskunsprojek, ’n veilige jaarlikse platform geskep waar jong queer mense op dorpsvlak hul stemme laat hoor. En in die Limpopo-dorp Burgersfort is daar ’n informele queer-ondersteuningstruktuur gevorm rondom ’n plaaslike haarsalon – waar jong LGBTQIA+ mense bymekaarkom, stories deel en mekaar emosioneel dra. Dit is nie net mooi projekte nie. Hulle is bewys dat ons nie net na die stede hoef te kyk vir goedkeuring of vir ruimte nie. Die platteland kan ook plek wees. Tuis wees. Toekoms wees. 

Vir Jasmonique, die aktrise. Vir Ava, die Latyn-danser. Vir Tee-Maps, die choreographer. Vir LuSierra, die trompoppie. Vir Kiki, die cheerleader. Vir Queen Starr, die songbird. Vir Riaan, die inspirasie. Vir Maxine, die Kewpie van die Karoo. 

Kewpie het ons kom herinner aan die liefde, die pyn, die styl en die oorlewing van queer mense – nie net in die stede nie, maar ook hier oor en tussen die Swartberge, onderkant die hotel, daar by Club Fantasy, die plate en deur die strate van Oudtshoorn. Die vraag is nou: Sal ons onthou? En sal ons voortgaan?

Foto’s: Ryan Dammert


Tiffany Witbooi is ’n skrywer, kunstenaar en argivale storieverteller van die Klein-Karoo. Sy is een van die stemme agter Karoo Kaarte – ’n projek wat stories van die streek argiveer deur visuele kuns, opvoering en openbare geskiedenis. Deur haar werk bou Tiffany doelbewus aan platforms waar gemarginaliseerde stemme erken en versterk kan word. Lees hier, hier en hier wat sy voorheen oor Karoo Kaarte geskryf het.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Karoo Kewpie en Pride in die platteland gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand